Oor ons
Wat ons
glo.
Jesus is die middelpunt.
Ons geloof
1. Ons glo in God
Ons glo in een God: Vader, Seun en Heilige Gees – Skepper en Onderhouer van alles.
2. Ons glo in Jesus
Ons glo Jesus Christus is die Seun van God. Hy het mens geword, tussen ons geleef, aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan. Jesus leef en Hy is Here.
3. Ons glo in die Bybel
Ons glo die Bybel is God se Woord en ons riglyn vir geloof en lewe. Dit vertel die groot verhaal van God se liefde, genade en herstel van die wêreld.
4. Ons glo in genade
Ons glo ons word nie deur ons eie prestasie of goeie werke gered nie, maar deur God se genade en geloof in Jesus Christus. In Jesus ontvang ons vergifnis, nuwe lewe en ’n nuwe identiteit.
5. Ons glo in die Heilige Gees
Ons glo die Heilige Gees is vandag teenwoordig en aktief. Hy leef in ons, lei ons, verander ons en bemagtig ons om die lewe van Jesus in die wêreld uit te leef.
6. Ons glo in die Kerk
Ons glo die Kerk is die liggaam van Christus, ’n gemeenskap van gewone mense wat saam Jesus volg. Kerk is meer as ’n plek waarheen ons gaan; dit is ’n familie waarvan ons deel word.
7. Ons glo in dissipelskap
Om Jesus te volg is ’n lewenswyse.
Ons wil by Jesus wees.
Ons wil meer soos Hy word.
Ons wil leef soos Hy geleef het.
8. Ons glo God is reeds aan die werk
Ons glo Jesus is reeds in ons gemeenskappe en ons wêreld aan die werk. Daarom wil ons nie net vir God iets doen nie – ons wil deel word van dit waarmee Hy reeds besig is.
9. Ons glo die goeie nuus is vir almal
Jesus se uitnodiging is vir elkeen. Daarom wil ons ’n gemeenskap wees waar mense welkom is om Jesus te ontmoet, vrae te vra, geloof te ontdek en saam met ons te groei.
10. Ons glo Jesus maak alles nuut
Ons leef met hoop. Ons glo Jesus het die dood oorwin, Hy kom weer en God sal uiteindelik alles herstel en nuut maak.
Daarom leef ons nie net met hoop vir eendag nie, maar ons wil nou reeds deel wees van Jesus se werk van liefde, herstel, geregtigheid en versoening in die wêreld.
Kom hoor dit in ’n diens
Geloof word makliker verstaan waar mense saam sit. Kom kuier gerus Sondag saam, of kontak ons as jy vrae het.
